Geoloog-fotograaf wat in donker tonnels grou (Bettie Lambrecht)

Posted on March 6, 2011

0


Geoloog-fotograaf wat in donker tonnels grou

Bettie Lambrecht

 
Roger Ballen het in 40 jaar gevorder van ‘n stokperdjie-fotograaf tot ‘n internasionaal gerekende kunstenaar skryf Bettie Lambreeht.

 

Roger Ballen blaai versigtig deur die nuwe uitgawe van sy fotoboek Dorps, Small Towns of South Africa.

Ons kyk saam na ’n landskap van geboue, almal foto’s geneem tussen 1983 en 1986 toe die jong doktor in geologie hom kom ingrawe het in die vreemde dorpsgees van Suid-Afrika. ’n Dorpsgees wat soveel anders is as dié waaraan hy as ’n New Yorkse boorling gewoond was.

Dorps is vir Ballen om nóg ’n rede belangrik: Die boek dui die vertrekpunt aan van ’n loopbaan wat hom hier in ’n aangenome land oor vier dekades heen geleidelik van amateurfotograaf tot ernstige kunstenaar geneem het.

Vandag is hy ’n gerekende, internasionale kunstenaar en sy werk word verteenwoordig in die wêreld se belangrikste kunsversamelings, van die MoMA in New York tot Londen se Tate.

Die verskyning van Ballen se tweede boek, Platteland, in 1994 het hom die gramskap van baie mense op die hals gehaal.

Dié boek met sy eerlike portrette van arm plattelanders het hom baie ongewild gemaak en hy is daarvan beskuldig dat hy aspris Afrikaners as arm en onnosel probeer voorstel; dat hy kwansuis ’n politieke punt probeer maak dat mense soos dié nie ’n land kan of behoort te regeer nie.

Dinge het sedertdien verander en hoewel Suid-Afrikaanse versamelaars steeds nie die grootste kopers van sy werk is nie (hulle dink steeds nie aan fotografie as kuns nie), beskou hulle hom as ’n hero, vertel hy al laggende.

Deesdae is dit vir hom lekker om plaaslik te werk en uit te stal.

“Dis nou totaal anders as in die vroeë 90’s,” voeg hy by.

Deesdae is hy ook ’n gewilde spreker by byeenkomste soos die onlangse Design Indaba in Kaapstad. ’n Oorsigtentoonstelling van sy werk het ook pas in die Iziko Nasionale Kunsmuseum begin en is nog tot volgende maand aan die gang.

Dan is Dorps ook pas deur Protea Boekhuis heruitgegee met ’n paar nuwe foto’s uit daardie era by die oubekendes.

“Nee, die heruitgawe was nie bedoel om my 60ste verjaardag verlede jaar te gedenk nie,” vertel hy al laggende met die halfgesluierde oë bokant byderwetse, halfgeskeerde wange verleë.

Dit is altyd Ballen se oë wat opval as jy met hom gesels. Die oë waarmee hy diep onder ’n mens se vel inkyk; waarmee hy dít blootlê wat versluier is. Dis ’n manier van kyk wat pas by dié van ’n geoloog, die nering wat Ballen oorspronklik na Suid-Afrika gebring het.

Krap geoloë dan nie hoeka in die aardkors se dorheid rond op soek na die skatte wat daar weggesteek lê nie? Skatte wat net bereikbaar word as jy bereid is om in donker tonnels af te daal? Na daar waar skrikkerige skadu’s spoke opjaag? Selfs in sy foto’s van (met die eerste oogopslag) doodgewone dorpsgeboue word jy bewus van hierdie donker tonnelwerk.

Selfs al sou Ballen eers van die eeuwending bekend word vir sy surrealistiese, gechoreografeerde fotobeelde wat die absurde teater oproep, is daar in die vroeë foto’s van Dorps al iets van dit wat NP Van Wyk Louw beskryf in sy gedig “Renboot”, iets donkers wat “gryp-gryp onderaan”.

Dit is ’n werkswyse wat jou as waarnemer/kyker amper opnuut bewus maak van watter magiese boodskappe skuil in alledaagse dinge soos hotelvoorstoepe, portretlyste in kamers, gekoekte elektriese drade of die koord waarmee ’n portret gehang word.

Jy besef ná ’n rukkie se staar na die foto’s in Dorps hoe die kontraste tussen lig en donker vlakke in iets soos ’n man se gesig onder ’n hoed, of die pilare en dak van ’n veranda, nie maar sommer toevallig is nie. Hoe dit ook nie net ’n estetiese sin vir ontwerp verraai nie, hoewel dít ook. Maar, belangriker, dat die swart/wit-kontras in die sober swart/wit-foto’s die kyker verskillende vlakke van bewussyn laat vermoed.

Soek jy na die oorsprong van die soort karakters wat Ballen-as-die-regisseur in later werk soos toneelspelers op ’n verhoog van die absurde teater laat optree, kry jy enkeles in Dorps. Maar die klem in Dorps is uiteindelik eerder op die waardigheid van die mens en sy futiele pogings om hom heroïes teen die kragte van verval te verset. En anders as wat sy eng kritici wil voorgee, teken Ballen hierdie onvermoë met deernis en empatie, eerder as met ’n sin van kulturele superioriteit.

Dit roer jou.

Waar Dorps op die begin dui van wat later in boeke soos Shadow Chamber (2005) hoofmotiewe word, is Dorps ook ’n vorm van afskeid. Ná Dorps het Ballen se blik nooit weer op die buitekant van geboue geval nie. Interieurs het fasades vervang, nie net as fisieke plekke binne ’n gebou nie, maar ook as gevoelsplek binne die mense se psige.

In die foto-essays in Dorps vind die stokperdjie-fotograaf van destyds in beelde dinge wat woorde nie uitspel nie.

Kyk maar na die stofomslag, Sideview of Hotel, Middelburg 1983. Oënskynlik is die motor, wat saam met die Victoriaanse pilare en balustrades in wit lig gebaai is, die “dokument” van die dorp. Maar klein, met sy rug en voet gestut teen ’n pilaar, is ’n enkele figuur, ’n goed geklede swart man. Hy staan in dieselfde lig as die pilare en die motor. Net soos die motor, alleen. Bloot, net.

Is die foto geneem uit die meer “dinamiese” skuinsaansig, soos die meeste mense ’n “interessante kiekie” sou wou neem, was die voorstelling niks meer as ’n vergane oomblik nie.

Ballen se oog, geskool in die 20ste eeuse formalisme van die beeldende kuns, skep betekenis deur die komposisie van ’n toneel in formele dinge soos vorm en lig; die afwissel van spanning tussen hierdie elemente soos in die kontras tussen horisontale en vertikale lyne; klein teen groot; sagte, geboë lyne teen harde, reguit lyne.

Die hotel word ’n metafoor vir kruipende eensaamheid.

Sy foto’s van plattelandse geboue is nie, soos baie foto’s in dié genre, sentimentele herinneringe van oulike, vervalle geboutjies nie. In Ballen se foto’s is daar dikwels ’n deernis vir mense se (amper futiele) strewe om boontoe te strek; om hulself uit versukkeldheid te droom. Dis lig teen donker. Nie dat dit heeltemal gestroop is van nostalgie nie. Ballen erken immers dat hy destyds probeer het om dit wat hy glo aan’t verdwyn is – “a disappearing South African aesthetic” – te dokumenteer.

Dit maak nie saak hoeveel keer ek deur Dorps blaai nie. Dis altyd met ’n knop in die keel dat ek die harde omslag saggies toemaak, liggies, om nie die horlosie se wysers te vinnig vorentoe te laat wip nie.

Bettie Lambrecht is ’n vryskut kunsskrywer en fotograaf.

Advertisements